Die Surrealisme was meer as net nog een van verskeie strominge in die literatuur en beeldende kunste uit die eerste kwart van die 20e eeu. Dit was 'n revolusie van waardes wat omtrent elke moontlike kunssoort bygekom en die 20e-eeuse lewe self ten diepste aangetas het.
Die Surrealisme het ontstaan as loot van die *Dadaïsme (die Surrealisme het by Dada se linkeroor uitgespring, het die dadaïs Hans Richter op 'n keer gesê) maar gegroei tot 'n outonome kuns, soos uiteengesit deur Breton in sy eerste surrealistiese manifes (Manifeste du Surréalisme, 1924). Sy naam het die Surrealisme te danke aan die profetiese vernuwer en digter, Guillaurrie Apollinaire, wat sy provokatiewe toneelstuk, Les mamelles de Tirésias (1917), in die voorwoord as 'n "surrealistiese drama" beskryf het. Met die neologisme het hy nie op die bonatuurlike gedui nie maar op die nie-verwante.
Die Surrealisme was nes die Dadaïsme 'n beweging van gewelddadige opstand teen die dwang van die bewaakte denke, d.w.s. teen die begrensing van kennis en ervaring deur die tirannie van 'n logiese, estetiese, sosio-morele bewussyn. Maar, anders as Dada se kom-ons-breek-alles-af-en-kyk-wat-bly-oor-rebellie, was die Surrealisme gerig op 'n stelselmatige bemoeiing met die onbekende terreine van die gees, soos die onbewuste. Was Dada se wanorde en absurditeite nie juis die uiting van magte wat die mens nog altyd onderdruk het en tog sy diepste psigiese werklikhede uitmaak nie, wonders en monsters en al? Met die psigoanalise en okkultisme as wegwysers het die Surrealisme geestestoestande soos die droom en hallusinasie verken en later selfs 'n sentrale navorsingsburo gestig waar lede verskynsels soos primitiewe mites, drogbeelde van kranksinniges, visioene van senuweelyers, skisofrenie, histerie, hipnose (soos die sg. hipnotiese "slape" wat surrealiste soos Crevel en Péret beoefen en opgeteken het), e.d.m. konbestudeer.
Die Surrealisme was dus allereers 'n avontuur van die gees, en nie 'n skool met 'n stel kliniese beginsels nie. Dit was te bevrydend en verkennend om 'n uitgesoekte kunsgenre te dien en slegs die literatuur en visuele kunste as doel na te streef.